Sunday, November 19, 2006

Die draad windpompie


In my vierde blog gaan ek die patriotiese geur van my blogs voortsit. Ek dink die draad windpompie is een van die beste simbole vir Suid-Afrika. In die draad windpompie (die tipe wat deur arm ongeskoolde voorheen benadeeldes langs die pad gemaak en verkoop word) lê ‘n magdom van betekenis en simboliek opgesluit. Die volgende is wat ek in die draad windpompie sien.



Die windpomp is ‘n simbool van die Europese invloed wat Suid Afrika ingekom het. Tog is die windpomp ook uniek aan Suid-Afrika (ek het nog nie rêrig windpompe soos wat ons dit hier kry in ander dele van die wêreld anders as Suidelike Afrika gesien nie).Dit is nie die Hollandse windmeul nie. Die windpomp weerspieel die geswoeg van die Afrikaner en Engelse boere teen die droogte, en al die ander ongenaakbare elemente van Afrika. Die windpomp is die hoop op water, ‘n kosbare, ontontbeerlike hulpbron vir die boer wat ‘n bestaan in die stof probeer maak.

Netso simboliseer die draad windpompie ook die struggle vir oorlewing van ons armer, kom ons sê nou maar voorheen benadeelde gemeenskappe. Die struggle om darem ‘n geldjie te maak vanaf die ryk motoris wat verby ry en so af en toe stop om bietjie na die handewerk te kyk, hopelik te koop. ‘n Eenvoudige konstruksie, sonder tielantyntjies, maar tog in werkbare toestand wat duidelik word as die wind waai.

Ek het die skepper van my draad windpompie by Colesberg gesien waar hy besig was om stringe van hulle met groot vaardigheid uit die mees basiese materiale met minimale toerusting (‘n klip) te maak. Stukkies draad, leë spuitkannetjies, koeldrank doppies, metaal plaatjies en bietjie silwer spuitverf. Dis al wat nodig is vir die vlink vingers om een van hierdie oulike ornamente te maak.

So in die draad windpompie lê die groot simboliek van Suid-Afrika. Die geveg teen die elemente, die harde werk wat dit vat om te oorleef, die belofte van ‘n dors wat geles word as mens net aanhou, die Westersheid maar tog Afrika-heid, die magiese betowering van die land, die armoede, maar ook potensiaal en vernuf wat opgesluit lê in ons hande, die rykdom wat ook onder die aarde lê.

Die materiele rykdom in Suid-Afrika lê in sommige se hande, die windpomp van die suksesvolle boer. Ander boere is arm, maar besit ook ‘n windpomp of twee waarmee hulle met groot hoop water soek. Ander inwoners is weer is brandarm, besit geen windpompe nie, maar maak wel draad replica’s om te oorleef. Die windpomp is dus die samebindende faktor van almal in die land, en beeld ook die lewe en omsandighede in ons land uit. Daarom dink ek die draad windpompie is ‘n ware simbool van Suid-Afrika.

Monday, November 13, 2006

'n tyd om te rus

Reg so die volgende blog. Ja dit was lanklaas wat daar iets was. Almal het seker al ophou na my blog gaan omdat daar niks nuut verskyn. Maar ek weet SuperJaco sal darem gaan, want net soos ek soek hy dikwels ‘n verskoning om nie werk voor hom op die rekenaarskerm te hê nie en uit te vind wat die ander siele in hierdie wêreld mee besig is.

Ek sit op die oomblik met my standaard bord spaghetti met maalvleis, sampioene en tamatie wat ek in die Riem gewoonlik gemaak het. Omdat ek alleen is in my kamer kan ek eet soos ‘n vark en nie worry daaroor nie. Ek dink kos proe lekkerder as jy dit in sulke groot hompe inlaai. Elk geval, vanaf Saterdag 13:00 is ek weer besig om ‘n mens te word. Ek het my tesis weggestuur en hoef vir nou nie meer aande te werk nie (en nou kan ek gelukkig ook nie meer daaroor praat nie).

So die absolute stress en gebrek aan rus wat ek die afgelope 2 maande en 10 dae beleef het is verby en my gestel sowel as geestestoestand is besig om aan te pas daarby. (Weereens, kry my jammer en stuur koekies en lekkers. Hoekom het niemand dit nog gedoen nie?) Dit is interresant hoe ‘n mens se uitkyk deur ‘n gebrek aan rus beinvloed word. Ek dink die belangrike ding in so ‘n situasie is om te weet dat jy onder druk is en dit nie te ernstig opneem as jou denke begin snaaks raak nie. Dit het ek in my dae van nagskof sekuriteiswerk in Londen geleer.

Dit sit natuurlik jou geloof ook onder druk En snaaks genoeg is dit geloof wat my deur die situasie dra. Die afgelope tyd was ek bakleierig met God, maar ek is nog nie deur ‘n weerligstraal getref, so ek neem aan ek is steeds ok in Sy oë. En die vraag wat by my ontstaan is of dit agv stres en gebrek aan rus is of nie. Dra mens jou krapperigheid vanaf die alledaagse na die onsienlike oor?

Ek moes ma bietjie diep raak, maar sal ophou voordat ek te prekerig raak en ketter oor dinge wat te groot is vir my woorde. Hierdie skrywery is nogals rerig terapeuties en help klaar om mens se kop te stabiliseer. So nou is die vraag: waaroor gaan vandag se blog? Ek dink dit gaan sommer oor enigiets. Die lewe, denke, ondervindings, gedagtes en soos bogenoem, terapie.

Wel deesdae het ek my siel aan kommersialisme verkoop. Ek is ‘n goeie verbruiker. Ek weet by watter winkel ‘n Samsung wasmasjien die goedkoopste is en selfs waar mens ‘n skoppie en handborsel teen die beste prys kan kry. Ja eks bevrees ek ken myself nie meer nie. Die mens wie se hartsbegeerte dit is om in ‘n hut êrens in die bundu’s te bly en van die veld te leef is weg… En dis als liewe, verpeste Mammon se skuld. En soos ek oor naweke en soms deur die week na die Malls gaan om hom daar te dien en my kontant na die kassiere/altaar bring, kom die vraag soms by my op: “Ketels, stofsuiers, strykysters, lepels. Het ek hierdie dinge regtig nodig?”

Die eerlike antwoord is nee. Maar dit maak wel die lewe bietjie makliker. As ek my kos vanuit die yskas eerder in ‘n mikrogolf kan warm maak as onder die oond se gril, hoekom dan nou nie? Die gril maak dit nie ordentlik warm nie en dalk kan ek siek word as die kos nie weer goed warm gemaak word nie. So koop vir jouself ‘n mikrogolf. En so vertel jy jouself elke keer hoekom jy iets moet hê. En soek natuurlik rond waar jy dit die goedkoopste kan kry. Die goeie verbruiker...

Maar egter, ek kom tot die gevolgtrekking dat om te budget een van die heiligste goed is wat jy kan doen. Dit wys klaar jou verantwoordelikheid met dit wat jy ontvang en om die kanse om in finansiele nood gedompel te word te verminder, waar jy andersins in die vesoeking val om te steel, roof en begeer. Ek dink basiese budgeting moet in ons land se skole geleer word as verpligte vak. Dit mag dalk baie van ons armoede en desperaatheids probleme oplos.

Het gisteraand ‘n goeie fliek gesien. Faith like potatoes. Dis nogals bietjie in die lyn van my vorige blog se einde. Dit gaan oor ‘n sukkelende boer in Natal wat deur geloof in God later ‘n evangelis raak en ‘n sukses van die boerdery maak. Dit het nogals baie van die (ek neem aan, eks ‘n dorpsknaap) tipiese scenarios van die gebeure op ‘n Suid-Afrikaanse plaas. Ek dink van julle wat op plase grootgeword het sal dit nogals veral waardeer. Dit is ‘n Suid-Afrikaanse fliek en akteurs.So gaan kyk dit en ondersteun ons plaaslike (talentvolle en unieke) film industrie.

En op daardie noot gaan ek nou maar die blog afsluit. Ek weet nie meer wat om te sê nie. Maar met rus wat soos koel water oor my begin spoel sal ek hopelik kan drink daarvan en vervris ‘n nuwe hoofstuk vanaf pen tot papier bring. (Dit was my poging om poëties te wees!)

Groete maters

Thursday, October 26, 2006

14 Oktober

Dis nou al langer as ‘n maand vandat ek hier is. Wat kan ek hiervan sê? Wel, die werk is sover baie lekker. Ek het pas my eerste projek klaargemaak waar ek die grond erosie in Lesotho vanaf satellietbeelde karteer het. Dit was baie interresant en het baie geleer. Vir die van julle wat nie heeltemal weet wat ek doen nie, verbeel jou net jy sit heel dag op Google Earth. Dit gee mens effense idée. Ek voel ook nou lekker ingesettle by die werk en kom goed oor die weg met die mense. Ek is gelukkig genoeg om baie nice base te hê.

Die mense in my huis het ek nou al meeste ontmoet. Dit is ‘n mixed bunch, van 2 Duitsers en ‘n Australier tot goeie ou Afrikaanse Natallers en Mpumalangarre. Lyk my meeste studeer maar. Ek is ook bevoorreg genoeg om twee Riem broers hier bo naby te hê. Mnre Jean-Pierre en Theo. Ons kuier darem lekker saam.

Ek het ongelukkig niks vreeslik opwindends om te vertel nie. Ek werk maar in die dag en die aande en naweke probeer tesis skryf. Dis maar werk, slaap, werk, slaap ens. Dit is baie uitputtend en ek voel hoe vat dit aan my. So stuur asb lekkergoed en beskuit sodat ek kan beter voel. :) Wat wel eintlik vir my opwindend is, is om ‘n nuwe plek te ontdek en leer ken. ‘n Mens kan net regtig ‘n ware gevoel vir ‘n plek ontwikkel as jy eers daar woon en werk vir ‘n ruk. So gevoel oor Londen.

O ja, die lewe is darem nie so boring nie, Het einde Sept ‘n draai op Potchefstroom gemaak en bietjie vir een van my mede GIS/Remote Sensing industrie maters gekuier. Carlo was baie gasvry en sy plek is twee keer so groot en luuks teen die helfde van myne se prys! Marinus, nog een van my swot/industrie maters was ook daar vanaf Kempton asook Bertie. Dit was natuurlik Aardklop, premier Afrikaanse kunstefees in hierdie wêreld. En nogals ‘n belewenis.

Na Aardklop moet ek bieg dat ek die afleiding gemaak dat die Afrikaner rêrig ‘n kommin nasie moet wees. Dit natuurlik ook genoem by die werk. En heel toevallig en tot my nederig making het die kommin toets per e-pos daarna by my arriveer. Ek het natuurlik een van die hoogste tellings op die vlak van kommingeid aangeteken, wat dalk aangedui het dat ek nie so uit plek was op Aardklop soos ek gevoel het nie. Die van julle wat dit ontvang het sal seker nou al die kommin sage in die kuberruim goed gevolg het!

Alle grappies op ‘n stokkie, dit was vir my jammer om te sien hoe die Afrikaner begin verval in mense met geen self respek of waardes nie. Ek het die naweek se “rock concert” oppiAarde (soos Kaktus op d vlakte van KKNK) bygewoon. Daar ‘n paar ontstellende outfits gesien wat hulself as Afrikaanse kunstenaars voordoen en die jongmense wat natuurlik juig op elke kru woord wat ge-uiter word. Ek maak myself nie as die mees hoogs heiligste, perfekte mens af nie, maar jislaaik... Ons almal se geliefde Polisiekar band het natuurlik gesorg vir die grand finale. Ek weet nie hoe jy ‘n groep kan ondersteun wat in die gehoor in spoeg nie?

Maar dit was nie als sleg, oor die algemeen was die naweek baie lekker. Johnny Clegg is ‘n moet om te sien vir enige iemand. Hy is ‘n absolute legende. Hy het ook ‘n liedjie in Afrikaans gesing wat cool was (seker om toelating tot die fees te kry). Chris Chameleon is ook natuurlik uitstekend. Parlotones, Lukraakketaar, the Narrow (lekker raserige musiek Erick) en ‘n paar ander interresante onbekendes. Ek sou graag die fees wou bywoon nie op die naweek waneer dit so onmoontlik besig is nie, dalk sal ek ‘n ander indruk daarvan kry.

Wel die hele ondervinding hier is nogals te groot om in woorde te beskryf. Daar is so baie wat gebeur, so baie om oor te dink en besin en so min tyd om dit te doen! Ek kan nou seker heel filosofies en geestelik raak hier, maar eks bevrees daar is nie tyd om al my gedagtes neer te lê nie. En die hele ondervinding van hiernatoe verskuif is elk geval steeds ‘n proses in wording. Ek sal maar net sê indien julle regtig belangstel, “watch this space” vir ‘n paar gedagtes, of beter, ons maak ‘n lekker braai en sit en praat heel aand!

‘n Storie van hoe “die Here gee en die Here neem” het ek dit nogals goed getref toe ek een aand oppad kerk toe was. Ek slaap mos nog die heeltyd op my opvou spons bank en het begin voel dit raak hoogtyd dat ek die wêreld van mense wat op beddens slaap ook betree. My huiswerk gedoen en intimideer geraak oor die pryse van beddens, maar gevoel dis nodig omdat kuiergaste niks het om op te sit nie. Toe kerk toe gery een aand en advertensie vir afslag op beddens langs die pad opgeplak gesien. Gegaan die week en ‘ queen size bed vir amper ‘n derde van die oorspronklike prys gekry! Sien, vir julle wat dink dis tydmors om kerk toe te gaan, dink weer! :)

So gaan lewe voort en so ontvou die lewenspad. Wat lê voor en waarheen nou? Ja ons ou land aan die Suid punt van Afrika. Ons inwoners wat so ‘n interresante klomp is. Ons situasies wat so uniek is. Ons lief en leed, ons struggles en vreugdes, swaarkry, bedreigings, hoop en geloof... Never a dull moment in Africa...

Oppad na Noorde

So hoe sal ek begin? Na vele vaarwels in die Kaap is ek met bietjie hartseer om almal te verlaat, bietjie onsekerheid, maar tog groot opwinding oppad na Gauteng. Om my siel te verkoop aan geld en my longe aan besoedeling? Want dis mos blykbaar al wat daar is. Of moet ek dalk self gaan uitvind of onse GP nie dalk goud, wat nie Mammon verwant is, ook êrens wegsteek...? Hoe dit ook al sy, die werk is daar so ek moet maar gaan.

Met ‘n vol gelaaide Honda durf ek die N1 Noord aan. Maxie perform baie goed en ek dink sy het rerig uitgesien na bietjie oop pad, veral nadat Pa en ek haar so bietjie getreat het. Die pad by De Doorns het padwerke (soos gewoonlik). Sneeu groet my op die heuwels langs Matjiesfontein. Op Beaufort Wes ‘n vinnige slapie gevang. Middelburg (Karoo) tref ek ‘n kamera. Colesberg was koud (soos gewoonlik). Daar dra ek by tot die informele ekonomie van die land en koop ‘n draad windpompie. Bloemfontein net voor die son sak. Daar gestop en gewonder wat de heng sit Wimpy in hul koffie wat dit so lekker maak? Net soos die son sak sien ek hoekom dit die Oranje Vrystaat genoem word en beleef ek ‘n ander mooi. Arriveer op Winburg (ouste dorp in die Vrystaat en nog deur die Voortrekkers gestig) teen 19:30. Die gastehuis is heel gerieflik en billik.

Volgende oggend vroeg hervat ek die N1 Noord teen ‘n meer gemaklike pas. Toe ek die vaal grys besoedeling begin opmerk dink ek: “Gauteng kan seker nie meer ver wees nie.”, en sowaar, net ‘n paar kilos verder steek ek die Vaal Rivier oor. Deur Johannesburg en die pad maklik gevind tot Charles Straat 44 in Pretoria. Alles uitgepak en toe vir Danie by die hotel 224 gekry (op hul ewige nomadiese reise deur die land). Vandaar is ons na Menlyn Mall vir ‘n bier. Jakkie Louw join ons bietjie later (die musiek industrie...) en ek groet hul daar en doen paar inkopies. Die aand het ek probeer om die mottegif reuk uit my kaste te kry en in die proses my flat baie koud gemaak. Die gehuggie is nogals groot. Al my stuff is in die slaapkamer en ek dink ek kan die sitkamer in ‘n dansbaan omskep. Die volgende dag check ek die wynrak in Brooklyn Mall se Checkers uit. Daar gebruik ek my Kaapse kennis en help twee Pretoria tannies met hul keuse vir wyn vir hul seun se braai.

Saterdag vertrek ek die middag na Hatfield Square vir die Springbo- NZ rugby. (Ek het liefs die WP-Bulle game maar nie gekyk nie, want ek het nog nie bondgenote hier nie. Hoera WP!) Bietjie ook in Hatfield Plaza rondgeloop. Ek het toe besef: Hatfield Plaza = Eikestad Mall, Menlyn Mall = Tygervallei met minder styl, Brooklyn Mall = Gardens Centre of Cavendish, net groter. Die ander opmerking: Hoekom het die massiewe Menlyn en Brooklyn Malls slegs ‘n Checkers en Woolies? (wat ek glo tot dusver duurder as die Kaap s’n is). Waar is PNP? Rugby by Her Gunter pub gekyk. Hoera vir die bokke toe ons darem net net kon wen! Die Sondag oggend is ek saam met Stiaan, Stefanie en sy niggie na ‘n kerk hier naby my. Heel aangenaam dat ek darem paar bekende gesigte so vroeg hier kan sien. Die middag in Muckelneuk park gestap. Vind uit ek bly eintlik in Baileys Muckleneuck, nie Brooklyn, om presies te wees.

Die eerste dag by die werk was rustig aangesien meeste van die personeel op ekskursies na elders gaan wees vanaf Dinsdag hierdie week. Dus gaan ek nie veel doen wat werk aanbetref nie, maar ek het dan tyd om ‘n groot hap uit die tesis skryf te vat! Die werk lyk baie nice sover, klein company en mense is vriendelik, die kantore is goed gelee. ‘n Baie rustige eerste dag, maar ek glo dinge gaan begin warm raak as almal eers terug is en my werk met erns begin. All in all is ek nou lekker ingesettle. So as enigiemand kom kuier moet julle net my gebrek aan meubels sover verskoon (ek slaap op die opvou bank!). Pretoria lyk sover nie te bad nie.