Thursday, October 26, 2006

Oppad na Noorde

So hoe sal ek begin? Na vele vaarwels in die Kaap is ek met bietjie hartseer om almal te verlaat, bietjie onsekerheid, maar tog groot opwinding oppad na Gauteng. Om my siel te verkoop aan geld en my longe aan besoedeling? Want dis mos blykbaar al wat daar is. Of moet ek dalk self gaan uitvind of onse GP nie dalk goud, wat nie Mammon verwant is, ook êrens wegsteek...? Hoe dit ook al sy, die werk is daar so ek moet maar gaan.

Met ‘n vol gelaaide Honda durf ek die N1 Noord aan. Maxie perform baie goed en ek dink sy het rerig uitgesien na bietjie oop pad, veral nadat Pa en ek haar so bietjie getreat het. Die pad by De Doorns het padwerke (soos gewoonlik). Sneeu groet my op die heuwels langs Matjiesfontein. Op Beaufort Wes ‘n vinnige slapie gevang. Middelburg (Karoo) tref ek ‘n kamera. Colesberg was koud (soos gewoonlik). Daar dra ek by tot die informele ekonomie van die land en koop ‘n draad windpompie. Bloemfontein net voor die son sak. Daar gestop en gewonder wat de heng sit Wimpy in hul koffie wat dit so lekker maak? Net soos die son sak sien ek hoekom dit die Oranje Vrystaat genoem word en beleef ek ‘n ander mooi. Arriveer op Winburg (ouste dorp in die Vrystaat en nog deur die Voortrekkers gestig) teen 19:30. Die gastehuis is heel gerieflik en billik.

Volgende oggend vroeg hervat ek die N1 Noord teen ‘n meer gemaklike pas. Toe ek die vaal grys besoedeling begin opmerk dink ek: “Gauteng kan seker nie meer ver wees nie.”, en sowaar, net ‘n paar kilos verder steek ek die Vaal Rivier oor. Deur Johannesburg en die pad maklik gevind tot Charles Straat 44 in Pretoria. Alles uitgepak en toe vir Danie by die hotel 224 gekry (op hul ewige nomadiese reise deur die land). Vandaar is ons na Menlyn Mall vir ‘n bier. Jakkie Louw join ons bietjie later (die musiek industrie...) en ek groet hul daar en doen paar inkopies. Die aand het ek probeer om die mottegif reuk uit my kaste te kry en in die proses my flat baie koud gemaak. Die gehuggie is nogals groot. Al my stuff is in die slaapkamer en ek dink ek kan die sitkamer in ‘n dansbaan omskep. Die volgende dag check ek die wynrak in Brooklyn Mall se Checkers uit. Daar gebruik ek my Kaapse kennis en help twee Pretoria tannies met hul keuse vir wyn vir hul seun se braai.

Saterdag vertrek ek die middag na Hatfield Square vir die Springbo- NZ rugby. (Ek het liefs die WP-Bulle game maar nie gekyk nie, want ek het nog nie bondgenote hier nie. Hoera WP!) Bietjie ook in Hatfield Plaza rondgeloop. Ek het toe besef: Hatfield Plaza = Eikestad Mall, Menlyn Mall = Tygervallei met minder styl, Brooklyn Mall = Gardens Centre of Cavendish, net groter. Die ander opmerking: Hoekom het die massiewe Menlyn en Brooklyn Malls slegs ‘n Checkers en Woolies? (wat ek glo tot dusver duurder as die Kaap s’n is). Waar is PNP? Rugby by Her Gunter pub gekyk. Hoera vir die bokke toe ons darem net net kon wen! Die Sondag oggend is ek saam met Stiaan, Stefanie en sy niggie na ‘n kerk hier naby my. Heel aangenaam dat ek darem paar bekende gesigte so vroeg hier kan sien. Die middag in Muckelneuk park gestap. Vind uit ek bly eintlik in Baileys Muckleneuck, nie Brooklyn, om presies te wees.

Die eerste dag by die werk was rustig aangesien meeste van die personeel op ekskursies na elders gaan wees vanaf Dinsdag hierdie week. Dus gaan ek nie veel doen wat werk aanbetref nie, maar ek het dan tyd om ‘n groot hap uit die tesis skryf te vat! Die werk lyk baie nice sover, klein company en mense is vriendelik, die kantore is goed gelee. ‘n Baie rustige eerste dag, maar ek glo dinge gaan begin warm raak as almal eers terug is en my werk met erns begin. All in all is ek nou lekker ingesettle. So as enigiemand kom kuier moet julle net my gebrek aan meubels sover verskoon (ek slaap op die opvou bank!). Pretoria lyk sover nie te bad nie.

No comments: